Lala.
Vanoggend vroeg
toe die koue nog spookasem wolkies uit my mond blaas
het ek verby jou huis gery.
Jou gordyne was nog toe,
maar jou venster was op 'n skrefie oop,
soos jy daarvan hou.
Het jy gehoor Lala?
Toe ek my fietsklokkie lui met ons geheime kode?
Het jy Lala? Het jy my hoor lag?
Dalk het jy my gesien?
Ek het my fiets vinniger getrap en die voorwiel opgelig
nes daai perde in jou pa se ou rolprente.
Vandag, vandag begin die vakansie!
Ek kon my fiets nie terughou nie, hy't gevlieg Lala,
oor die nou strate met ou bome –
verby die mynhope, oor die treinspoor,
bult op tot waar kleiner boompies wagstaan oor groot huise -
tot voor die skool!
Nog net 'n paar ure en dan – VAKANSIE!
Juffrou het gevra wat ons die vakansie gaan doen
Andries-hulle gaan walvisse in Hermanus kyk –
Walvisse Lala! Ek wonder of hulle regtig so groot soos Jona s'n is?
En Mart-Mari hulle gaan Pecanwood toe,
klink vir my na 'n yslike klomp neute
as daar 'n hele bos vol is!
Maar voordat ek vir Juffrou kon vertel van ons planne
het die klok gelui, en dit was tyd –
tyd om jou te gaan haal!
My ma het vir ons Pick n Pay lyntjies uitgesny
om aan ons handvatsels vas te maak
dit maak die mooiste geluid in die wind Lala…
Ek het een van my ouma se perske bottels geleen
om paddas by die spruit in te vang,
nie vlinders nie, ek weet jy haat dit.
En Lala, my baaibroek is reeds ingepak,
ek weet jy kan nie so goed swem nie maar ek sal jou hand vashou,
styf, soos altyd, en ons kan vir ure in die vlakkant dryf.
Ek het vanmiddag verby jou huis gery
Pick n Pay linte in die wind, heen en weer, heen en weer
Jou venster was nog op n skrefie oop, maar jy was nie daar nie…
Waar's jy Lala?
Wanneer kom jy terug?
Wat gaan ek sonder jou doen?
No comments:
Post a Comment